Waar kom ons water vandaan?
This article is available in: English | Afrikaans | Sotho | Zulu
Download this page in PDF format (468 KB).
Die Uitdaging
Soos alle lewende dinge, het mense water nodig om te oorleef en te floreer. Soms vestig mense in gebiede waar daar nie ‘n goeie waterbron naby is nie. Dit was die geval in die Witwatersrand-gebied. In ‘n soeke na goud, het baie mense teen die einde van die 19de eeu na die Witwatersrand getrek. Namate die myndorp Johannesburg uitgebrei het, was daar nie genoeg water om aan almal se behoeftes te voorsien nie. Pogings deur die Johannesburgse Waterwerke Maatskappy, is verder belemmer deur die Groot Droogte van 1895. Vele klagtes oor water het gelei tot die aanstelling van die Waterwerke Kommissie in 1895 om maniere te ondersoek om Johannesburg van goeie kwaliteit drinkwater te voorsien.
‘n Geoloog, Dr Draper, is deur die kommissie aangestel om hiermee te help. Na ‘n soektog op die plaas Zuurbekom, het Dr Draper gekry waarna almal gesoek het. Hy het sy sakdoek aan die tak van ‘n doringbos gebind en by sy terugkeer in Johannesburg aan die Waterkommissie gesê om “na die plaas Zuurbekom te gaan waar julle my sakdoek sal vind. Boor ‘n boorgat daar en julle sal water kry – en baie daarvan.” Gedurende 1896 en 1897 het die Waterwerke-Kommissie ‘n stabiele waterbron van die Zuurbekom Watervoorsieningsmaatskappy se boorgate, bekom. In 1903 het die Waterwerke-Kommissie Rand Water gestig om te verseker dat die Witwatersrand genoeg skoon, veilige drinkwater ontvang.
Grondwater
Rand Water het aanvanklik grondwater van die Zuurbekom-boorgate aan die Wes-Rand, gebruik. Hierdie water was van so ‘n goeie gehalte, dat geen suiwering nodig was nie.
Natuurlike Dreinering
Toe die water van die Zuurbekom-boorgate nie meer genoeg water aan die groeiende bevolking van die Witwatersrand kon voorsien nie, is die Vaalrivier aan die suide van Johannesburg as die nuwe waterbron gekies. In 1923 het Rand Water die Vaalrivier opgedam om die Vaalrivier Barrage Reservoir te vorm. In 1938 is die Vaaldam, wat nou die hoofbron van water vir Rand Water is, stroom-op van die Vaalrivier-barrage, gebou. Die Vaal- en Wilgeriviere vloei natuurlik in die Vaaldam in. Hierdie riviere vloei deur landbougrond en landelike nedersettings, waar daar min nywerhede is. Dit beteken dat die Vaaldam se water, aan internasionale standaarde gemeet, van ‘n goeie gehalte is.
Die Vaalriviersisteem
Die Vaalriviersisteem het sy oorsprong in die omgewing van Ermelo in die oostelike hoëveld. Vlak holtes en lae heuwels vorm ‘n natuurlike spons waar die water in panne, vleie en strome versamel. Hierdie strome vloei ineen en die Vaalrivier word gebore. Die Vaalrivier kronkel lank weswaarts, sonder stroomversnellings of watervalle en verbreed tot ‘n groot rivier. Die rivier was aan die Boesmans bekend as GijGariep (“geelbruin”) as gevolg van die modderige kleur. Die Europese naam, Vaal, verwys ook na die kleur. Die Sotho’s het dit iliGwa (“onvoorspelbaar”) genoem, na aanleiding van die onvoorspelbare variasies in die vloei.
Soos die Vaalrivier weswaarts vloei, vloei dit by die Grootdraai Dam in. Hierdie dam het ‘n totale opgaarkapasiteit van 350 miljoen kubieke meter, bedek ‘n oppervlak van 39 vierkante kilometer en het ‘n gemiddelde diepte van 27 meter. Onderweg na die Vaaldam, sluit ‘n aantal riviere by die Vaalrivier aan:
- die Klein-Vaalrivier, wat op die platorand naby Ermelo ontspring;
- die Kliprivier, wat naby Memel in die Vrystaat, ontspring,
- die Watervalrivier, wat in Secunda ontspring.
Grootdraaidam
Die Wilgerivier het aanvanklik voor die Vaaldam by die Vaalrivier aangesluit, maar vloei nou direk in die Vaaldam. Hierdie rivier ontstaan op die platorand naby Harrismith. Onderweg na die Vaaldam, sluit ‘n aantal ander riviere, naamlik die Nuwejaarspruit, Elands- en die Liebenbergsvlei-riviere, daarby aan.
Die Vaalrivier is een van die hoof riviere in Suid-Afrika, maar sy vloei is nie konstant nie. Dit beteken dat groot damme gebou moet word om water op te gaar. Vroeër is baie klein dammetjies gebou om plase te besproei. Hierdie damme was die voorlopers van die groot stuwalle en damme wat vandag die rivier beheer en waarvan die goudvelde van die Witwatersrand en die omliggende industriële netwerk, so afhanklik is.
Die Vaaldam is in die vroeë dertigerjare gebou en in 1938 voltooi. Die bou van die dam was ‘n gesamentlike projek tussen Rand Water en die eertydse Departement van Besproeiing. Vandag kry Gauteng hul water uit die Vaaldam, wat tans deur die Department van Water- en Omgewingsake, bestuur word. Die Vaaldam se opvangsgebied strek oor 38 505 vierkante kilometer en het ’n kapasiteit van 2575 miljoen kubieke meter. Dit sal, onder normale omstandighede en sonder uitermate invloeiing, vir 2 jaar hou. Die dam beslaan ‘n oppervlak van 321 vierkante kilometer en is gemiddeld 22,5 meter diep. Hoewel die Vaaldam, in terme van opgaarkapasiteit, slegs die vierde grootste dam in Suid-Afrika is, is dit, gesien in die lig van sy rol as hoof-watervoorsiener aan die ekonomiese hartslag van Suid-Afrika, die mees belangrike dam.
Vaaldam
Die huidige wal van die Vaaldam is al twee maal verhoog. In die vroeë vyftigerjare is die wal met 6.1 meter verhoog om dit ‘n opgaarkapasiteit van 2188 miljoen kubieke meter te gee. Die immer stygende vraag na water, het in 1985 ‘n verdere verhoging genoodsaak. Die wal is met 3,5 meter verhoog, wat die volume van die dam na 2536 miljoen kubieke meter vergroot het. Die oorblewende 1.95 meter, wat op 662 miljoen kubieke meter neerkom, word vir tydelike vloed-berging gebruik.
Vaalriver Barragereservoir
Die Vaalrivier-barrage Reservoir, wat uit ‘n reeks sluise oor die Vaalrivier bestaan, is in 1923, stroom af van die Vaaldam, gebou. Die reservoir is 64 kilometer lank en het ‘n opgaarkapsiteit van 63 miljoen liter, beslaan ‘n oppervlak van 168,35 vierkante kilometer en het ‘n gemiddelde diepte van 4,5 meter. Die riviere (Suikerbosrant-, Klip- en Rietspruit), wat in die Vaalrivier-barrage Reservoir invloei, vloei vanaf digbewoonde gebiede soos Johannesburg, Vereeniging en Sasolburg. Die reservoir was aanvanklik gebruik om water aan die Witwatersrand te voorsien, maar aangesien die gehalte van die water as gevolg van besoedeling aan die afneem is, is dit nie meer die geval nie. Die reservoir word vir vele ontspanningsdoeleindes soos bootry, ski, visvang en swem gebruik en daar is talle vakansie-oorde aan die walle.
Effektiewe bestuur is die sleutel tot die goeie behoud van ons waterbronne. Dit behels die monitering van al ons hoof riviere en damme – ‘n taak wat gereelde monster-neming en analisering van meer as 140 punte in Rand Water se opvangsgebied, behels. Dit word deur Rand Water se Watergehalte Spesialisdienste-departement, onderneem. Deel van die bestuur van ons waterbronne, is die monitering van afvalwater van nywerhede en munisipaliteite.
Wanneer die water die Vaalrivier-barrage Reservoir-gebied verlaat, kronkel dit verby Parys in die Vrystaat tot in die Bloemhofdam. Hierdie dam het ‘n oppervlak van 233 vierkante kilometer, ‘n gemiddelde diepte van 18 meter en ‘n totale opgaarkapasiteit van 1,26 biljoen kubieke meter. By Christiana is daar ‘n ingewikkelde stel kanale wat water na 1200 plase neem in een van die grootste besproeiingskemas in die suidelike halfrond. By Douglas ontmoet die Vaalrivier die Oranje-rivier, 1200 kilometer van sy oorsprong af. Die Oranje-rivier, wat in Lesotho ontspring, vloei dan verder weswaarts totdat dit uiteindelik by Alexanderbaai in die Atlantiese Oseaan, uitmond.
Herleidingskemas
Twee water-herleidingskemas is gebou om water uit ander opvanggebiede na die Vaaldam te herlei, ten einde aan die groeiende behoeftes van die Witwatersrand, te voldoen. Hierdie skemas sluit die volgende in:
1. Die Thukela-Vaal Water-herleidingskema
Hierdie skema is in die Drakensberg geleë en is in 1974 voltooi. Die Thukela ontspring by Mont Aux Sources in die Drakensberg en kronkel deur KwaZulu-Natal tot by die Indiese Oseaan. Met die konstruksie van die Thukela-Vaal waterskema, word ‘n sekere hoeveelheid water deur middel van kanale, pypleidings en damme, na die Vaalrivier-sisteem, herlei.
Die Thukela-rivier vloei in die Woodstockdam (Oppervlakgebied: 29 vierkante kilometer; Gemiddelde diepte: 40 meter; Totale opgaarkapasiteit: 380 miljoen kubieke meter) en dan in die Driel-barrage verder stroom af. ‘n Sekere hoeveelheid water word uit die Driel-barrage in ‘n kanaal gepomp, wat dan deur middel van swaartekrag, in die Kilburndam vloei. Water van die Kilburndam word vervolgens ondergronds oor die Drakensberg (500m) tot in die Driekloofdam, gepomp.
Hierdie deel van die skema word gebruik om eletrisiteit te verwek, met ‘n hidro-elektriese kragsentrale wat in die Drakensberge gebou is. Hierdie kragsentrale staan bekend as die Drakensberg-pompopgaarskema en word deur Eskom bestuur. Elektrisiteit wat hier opgewek word, word dan in die nasionale elektrisiteitsnetwerk, ingevoer. Tydens spitstye (soggens en saans), wanneer elektrisiteit benodig word, word water uit die Driekloofdam, deur die hidro-elktriese turbines, tot in die Kilburndam, gestort. Gedurende stil tye, word die water uit die Kilburndam na die Driekloofdam, teruggepomp. Wanneer die Driekloofdam vol is, vloei die water oor ‘n stuwal na die Sterkfonteindam. Die Sterkfonteindam beslaan ‘n oppervlak van 67 vierkante kilometer, is gemiddeld 93 meter diep en het ‘n totale opgaarkapasiteit van 2,62 biljoen kubieke meter.
Sodra water in die Vaalrivierstelsel benodig word, word water uit die Sterkfonteindam in die Nuwejaarspruit vrygelaat, wat dan in die Wilgerivier en vervolgens tot in die Vaaldam, vloei. Die toekomstige planne vir waterbestuur in Suid-Afrika, sluit die bou van twee verdere damme in die skema in: die Mielietuindam (30 miljoen kubieke meter) op die Boesmansrivier en Jana-dam (1500 miljoen kubieke meter) in die Thukelarivier in, wat met 121 km pypleidings in die bestaande skema invloei.
2. Die Lesotho-Hoogland-waterprojek
Hierdie skema is in die berge van Lesotho, geleë. Die berge van Lesotho kry baie water in die vorm van reën en sneeu. Fase 1A van die projek het die bou van die Katsedam in die Malibamatso-rivier, ingesluit.
Katsedam Mueladam Asrivier Uitlaat
Die Malibamatso-rivier sluit by die Senqu-rivier aan, wat dan in die Oranjerivier inloop. Water van die Katsedam (Oppervlak: 37,6 vierkante kilometer; Gemiddelde diepte: 180 meter; Totale opgaarkapasiteit: 1,95 biljoen kubieke meter) word deur ‘n tonnel ingesuig deur middel van ‘n opgaartoring wat stroom op van die Katsedamwal geleë is. Die water gaan deur ‘n ondergrondse pypleiding, 44,75 kilometer lank, deur die Muela Hidro-elektriese Kragsentrale tot in die Muela-dam. Hier beweeg die water reguit deur die ondergrondse hidro-elektriese turbines, wat elektrisiteit aan Lesotho verskaf. Die water van die Muela-dam vloei dan per ondergrondse pypleiding, 33,27 kilometer ver, tot in die Asrivier, naby Clarens in Suid-Afrika.
Die Asrivier loop in die Saulspoortdam in. Daarvandaan vloei die water in die Liebenbergsvlei, dan die Wilgerivier, tot in die Vaaldam. Fase 1A van hierdie projek is in 1998 voltooi. Fase 1B het die bou van die Mohale-dam, sowel as die ondergrondse herleidingstonnel, wat na die Katsedam lei, behels. Fase 2 sluit die bou van ‘n verdere 3 damme in Lesotho, naamlik die Polihalidam, die Taungdam en die Lebelodam, met ondergrondse pypleidings na die bestaande damme, in. Planne vir die Plohalidam vorder goed met konstruksie wat in 2011 begin. Dit behoort teen 2019 voltooi te wees teen ‘n beraamde koste van R7.3 biljoen.
Drinkwater Voorraad
Rand Water kry water vir suiwering uit die Vaaldam. Hierdie water word deur kanale en pypleidings na Rand Water se twee suiweringsaanlegte in Vereeniging, gelei. Hier word die water gesuiwer en behandel tot ‘n standaard wat dit geskik maak vir mense om te drink. Die water voldoen aan die vereistes van die Suid-Afrikaanse Nasionale Standaard vir Drinkwater (SANS 241), asook die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WGO) se riglyne. Die gesuiwerde water word per ondergrondse pypleidings, deur ‘n reeks pompstasies gepomp, waarna dit in bedekte reservoirs geberg word en dan deur middel van swaartekrag met ondergrondse pypleidings, versprei word. Rand Water verkoop water aan plaaslike owerhede, asook sommige myne en nywerhede, in ‘n gebied wat 18 000 vierkante kilometer beslaan. Die plaaslike owerhede verskaf dan die water wat hulle van Rand Water koop, aan 11 miljoen huise, skole en besighede in Gauteng en dele van Mpumalanga, Vrystaat en Limpopo. Dit behels 45% van Suid-Afrika se bevolking en 60% van die ekonomie.
Afvalwater
Mense gebruik water vir was, kosmaak, tuinmaak, vervaardiging, drink en spoeltoilette. Water wat met dreine en toilette wegspoel, word afvalwater, genoem (riool). In gebiede met ‘n watergebaseerde rioolstelsel, word die afvalwater met rioolpype na watersuiweringsaanlegte vervoer. Hier word die afvalwater gesuiwer en behandel ooreenkostig ‘n standaard wat deur die Departement Water en Omgewingsake, daargestel is, voordat dit in die naaste rivier gestort word. Behandelde afvalwater van die noordelike gebiede van die Witwatersrandse waterskeiding, word in die Krokodil- en Limpopriviere gestort tot in die Indiese Oseaan. Behandelde afvalwater van die suidelike waterskeiding, vloei in riviere wat in die Vaalrivier-barrage Reservoir (stroom af van die Vaaldam) uitloop, vandaar na die Oranjerivier en die Atlantiese Oseaan. Op hierdie wyse word water in die natuurlike watersiklus, teruggeplaas.
Is water gratis?
Water is vrylik beskikbaar uit die natuurlike watersiklus, maar aangesien water in Suid-Afrika ‘n skaars – en dikwels besoedelde – bron is, is dit noodsaaklik om stelsels in plek te sit om te verseker dat ons genoeg gesonde, skoon water kry. Hierdie stelsels sluit damme, water-herleidingskemas, suiweringsaanlegte, reservoirs, pypleidings, ens., in. Hierdie stelsels kos baie geld en daarom moet ons vir water betaal. Tans betaal jy tussen R4 en R16 vir 1000 liter kraanwater, wat baie goedkoop is in vergelyking met jou kruideniersware. Indien ons voortgaan om water te vermors en besoedel, gaan hierdie kostes aansienlik styg. Meer damme en skemas sal benodig word en verdere tegnologie, of meer infrastruktuur, sal deur Rand Water ontwikkel moet word, om besoedelde water te suiwer. Daarom is dit belangrik dat mense hul gesindheid jeens water verander, dit met respek moet behandel en dit WYSLIK gebruik. Die belangrik dat ons almal WATER-WYS word!
Om “Water-Wys” te wees, beteken ‘n mens moet:
- algehele RESPEK hê vir water en alle lewe;
- water oordeelkundig gebruik en dit nie MORS nie;
- nie ons riviere met vloeibare of vaste afval BESOEDEL nie;
- vir waterdienste BETAAL;
- OPTREE om waterprobleme op te los; en
- water SPAAR en sodoende ons natuurlike omgewing BEWAAR.
See also:
What Does it Mean to be Water Wise?Are you Water Wise? Take our fun Quiz.
Water Situation in South Africa